Ek het die Sweedse skrywer Stieg Larsson se drie boeke baie geniet: “The girl with the dragon tattoo”, “The girl who played with fire” en “The girl who kicked the hornet’s nest”. Die boeke staan in die JS Gericke Biblioteek by 839.738 LAR, maar wees gewaarsku, hulle is omtrent altyd uitgeleen.
Ek is n Paulo Coelho “fan”. Het elke enkele boek van Coelho gelees. Eleven Minutes een van Coelho se beste boeke en ook die grootste verkoper in Amerikaanse fiksie.
Dit gaan oor Maria n prostituut. Die boek neem jou deur straatjies van Brasilie en eindig in Switserland waar Maria haar eintlik vestig. Die boek het wraggies n “happy ending” soortgelyk aan dit in romantiese flieks. Ongelukkig is die boek nie beskikbaar in die J.S. Gericke biblioteek nie.

The Road deur Cormac McCarthy
As daar een boek is wat my regtig koud gelaat het, was en is dit nog Cormac McCarthy se boek ”The Road”. Die boek (redelik kort – so 200-en-iets bladsye) sleur die leser deur ‘n post-apokaliptiese wereld wat deur ‘n onbekende ”iets” tot ‘n amperse nietigheid geskroei is. Ons twee protagoniste – ‘n pa en sy seuntjie – loop op ‘n pad op weg na die oseaan, en probeer saam-saam in ‘n wereld lewe waar alles vernietig is en net ‘n handvol gelukkiges kon oorleef. Selfs die pa en seuntjie word nooit geidentifiseer nie (dink net: is ‘n naam of ouderdom regtig so belangrik as alles op aarde vernietig is?) en die leser wen plek-plek konteks met ‘n geskiedenis van die twee.
Die storie is eintlik heel eenvoudig (die pa en sy seun op ‘n pad), en dit slaan my stom hoe McCarthy ‘n storielyn soos dié vir 200-en-iets bladsye kon uitrek. Maar dis nie uitrek per say sleg nie: dis boeiend. So kry die leser saam honger as die (ek dink, jong?) seuntjie honger kry, of is mens maar saam mismoedig as die pa in ‘n dolleeg dorp geen komberse kan opspoor nie; of dalk uiters bly as die seuntjie in ‘n leë dog chaotiese supermark ‘n blikkie Coca-Cola opspoor…
Die boek is reeds deur Hollywood opgeraap en verfilm, maar ek dink nie ek gaan dit sien nie. McCarthy se (be)skryfvermoë is in die kol, en ek dink nie die boek sou my so koud gelaat het as hy nie my (die leser) se verbeelding deur woorde so perfek ingekleur het nie. Selfs met die lees van Kleinboer se ”Kontrei” en John Berger se ”G: a novel” na ek The Road gelees het, kon ek nog steeds nie die boek uit my sisteem kry nie. Carson McCullers se ”The Heart Is A Lonely Hunter” het dit wel ”uit my gekry”, maar daaroor blog ek weer op ‘n ander tyd.
Ongelukkig is die boek nie in die JS Gericke Biblioteek beskikbaar nie (dis nou as ek reg op die katalogus gekyk het), maar demmit: gaan koop hom self en bewaar hom op jou boekrak. Dis ‘n skat.

Hierdie boek van my gunsteling Nederlandse skrywer staan uit op die oomblik, omdat ek dit gelees het tydens my reis verlede jaar in Nederland en Italië. Christiaan Weijts is ‘n redelike jong skrywer, bekend ook vir rubrieke in koerante, ens. maar hy het nou al 4 boeke uitgee. En selfs ‘n paar pryse ook gewen. Een van hulle is in die JS Gericke, Art. 285b : roman / Christiaan Weijts. Raknommer: 839.3136 WEI 2 ART. Lees dit gerus!
Via Cappello 23 speel af in Italië en Nederland, daarom dat dit ook vir my so lekker was om dit te lees op vliegtuie, treine, stasies, terwyl ek gereis het in dieselfde plekke
Dit speel hoofsaaklik in Venesië en Verona in Italië en Leiden en Den Haag in Nederland af. Weijts se eie “liefdesverhouding” met Venesië word goed uitgebeeld en indien mens Venesië wil besoek, sal jy ‘n paar baie goeie tips hier kry! Een van die temas in die boek is die gondoliers in Venesië wat staak en die hoofkarakter wat ‘n joernalis is, (soos Weijts), moet gaan berig doen oor die staking. Hy raak dan nou betrokke by die gondoliers en hul bedrywighede. Liefdesintriges met ‘n Nederlandse reisgids kom natuurlik ook voor en romantiese dele van die roman speel ook af in Verona. Ek het die boek verslind en kan nie wag om hom weer te lees nie!
Ek is groot aanhanger van JM Coetzee se skryfwerk. Sy vermoë om komplekse emosionele en sosiale aangeleenthede puntenerig korrek te beskryf, is verbysterend. Hy kry altyd presies die regte woord en sinskonstruksie vir dit wat hy wil sê. Daar is nie enige onnodige woorde in sy boeke nie. Elkeen is daar met ‘n doel. Ek waardeer dit – ‘n skrywer wat vaardig-noukeurig skryf, sonder onnodige beskrywings en tierlantyntjies!
Wat ek mees onlangs van hom gelees het, is Slow Man.
Kom luister wat sê die bekende skrywerspaar, Daniël Hugo en Carina Diedericks-Hugo, oor die rol wat boeke in hul lewens speel.
Donderdag 25 Maart om 13:00 in die JS Gericke Biblioteek se personeelkamer. Toegang gratis; verversings sal bedien word.
During South African Library Week, 22-27 March 2010, libraries and stakeholders are celebrating and promoting the importance of libraries and information services throughout South Africa with the theme : “Reading changes lives”. This theme encourages a culture of reading and raises awareness about the benefits of reading. The theme expresses how reading opens up new worlds and new opportunities, reading can be inspirational, educational, entertaining, escapist, developmental and fun.
At the Stellenbosch University Library and Information Service we would like to focus on this theme by inviting all to contribute their favourite / most influential or “life changing” books to this blog.
We look forward to your posts!